Wednesday, October 22, 2008

Piet Retief

Voor die Groot Trek was die Afrikaners van die Kolonie feitlik sonder leiers; maar dit is merkwaardig hoe gou daar, toe die drang van omstandighede dit vereis het, dadelik manne na vore getree het wat hulle bekwaam getoon het om die leiding van sake op hulle te neem . En onder hierdie manne was Piet Retief seker die vernaamste. Die posisie wat hy in die geskiedenis beklee, is des te merkwaardiger, omdat sy openbare loopbaan vanaf die begin daarvan nog geen twintig jaar dek nie, terwyl sy lewe afgesny is op ‘n tydstip toe dit, na die mens gesproke, gelyk het asof die belangrikste gedeelte van sy taak as volksleier feitlik net ‘n aanvang sou neem.
Retief is in 1780 op die plaas Welvanpas (naby die huidige dorp Wellington) gebore. Van sy jongelingsjare is egte niks bekend nie. Blykbaar was hy vir die boerdery bestem, maar volgens regter Cloete was hy te rusteloos van geaardheid om die ‘die gemaklike en lonende bestaan’ voort te sit.